Ron Roseveare Nagresies

Hierdie was die derde jaarlikse Ron Roseveare nagresies en dit was ook die derde keer dat ek deel geneem het. Ek het soos gewoonlik saam met Doug op sy boot Sea Quill geseil. Hierdie jaar was ons 6 op die boot (dit sluit natuurlik Neville, Doug se 5 jarige seuntjie in).

Sea Quill bemanning

Die Ron Roseveare resies begin gewoonlik 16:30 namiddag vanaf die Weste kant van die dam en kronkel heen en weer oor die dam tot by die eindpunt by PNYC wat naby die invloei van die Wilgerivier is. Die roete is ongeveer 40 myl ver. Die resies is vernoem na ‘n lid van die PNYC wat verdrink het tydens een van die klub se uithou wedvaarte. PNYC bied die resies elke jaar aan.

20 bote het ingeskryf

Nadat Peter uiteindelik opgedaag het, het ons so gou moonltlik na die ander kant van die dam vertrek. Dit vat meer as ‘n uur om vanaf PNYC na DAC met die motor te vaar. Ons wou vroeg daar wees sodat ons lekker kon ontspan en braai voor die resies begin.

Wag alweer vir Peter

Ons het ‘n paar biere by DAC gedrink en toe gaan braai. Die weer was wonderlik, daar was wind en dit was so warm soos dit maar in Augustus raak. Na die braai het ons die resiesoorsig gaan bywoon, voordat ons na die wegspringboei gevaar het. Daar het twintig bote ingesrkyf so die wegspring area het vinnig begin besig raak. Die deelnemers was van alle grote en vorige wenners soos Baleka was soos gewoonlik ook daar.

Kevin braai te lekker terwyl Neville toekyk

Met die wegspring was ons eerste oor die lyn en was vyfde om die eerste merk (na die vier moderne bote ons verby gesteek het). Met sonsondergang het die wind gaan lê. Ek dink die hele vloot het gedink dit is die einde van die wedvaart en ‘n herhaling van laas jaar, maar skielik het die wind weer begin waai. Dit het baie gedraai en die windspoed was baie wisselvallig, maar ons was te dankbaar vir wat ons kon kry. Die wind het die res van die aand aanhou draai en sterk gewaai dan heeltemal ophou waai. Dit het beteken dat Peter en Kevin hard moes werk om seile te wissel.

Wind raak stil

Ons het net na twee uur in baie koue weer klaar gemaak. Ons was vyfde oor die eindstreep, maar het algeheel vierde geëindig volgens voorgee. Nadat ons warm sop by die Klub gaan eet het, het ek huistoe gery. Wat het ek Sondag gedoen? Geslaap!

‘n Aand op die Vaaldam

Saterdag het ek vir die eerste keer in die nag geseil. Dit was nou ‘n wonderlikke ervaring. Ek het saam met Doug op sy boot, Sea Quill geseil. Doug het die regte navigasie instrumente aan boord gehad en sonder die instrumente dink ek nie iemand sou die resies kon voltooi nie.

Die son sak oor die Vaaldam

Die son sak oor die Vaaldam

Die resies het by Anchor Creek begin en ons het Saterdagoggend reeds soentoe geseil. Nadat ons tevrede was dat almal weet wat om te doen en die boot gereed was vir die resies het ons op die boot gebraai en gekuier terwyl ons gewag het vir die wegspring.

Kevin besig om te braai

Kevin besig om te braai

Die 24 seemyl roete het ons van die een kant van die dam tot die ander geneem. Agtien bote het Saterdagmiddag half vyf by die DAC boei in redelike sterk wind begin. Vanaf die DAC boei is ons Suid na LDYC en toe weer Noord na North Bay en toe deur die samevloeiing en terug na PNYC. Dit het ons bietjie meer as 7 ure gevat om die roete te voltooi en ons het so twintig voor een Sondagoggend oor die eindstreep geseil. Daar was deurentyd wind gewees en het gimiddeld so 7 knope gedurende die aand gewaai.

Die laaste bietjie sonlig

Die laaste bietjie sonlig

Peter was aan die stuur gewees en vir die res van die bemanning was daar min tyd vir ‘n blaaskans. Ons moes heeltyd van koers verander. Behalwe om seile te verander het Lisa ook ander take gehad soos om vir almal lekker plofkoffie te maak en met biltong te voer.

Peter aan die stuur

Peter aan die stuur

Ons het vierdie oor die eindstreep geseil en het vyfde volgens voorgee geëindig. ‘n Paar bote het gedurende die nag tou op gegooi en die laaste boot terug by PNYC het eers half ses Sondagoggend oor die lyn gesyl. Na die resies het ons gou gaan inloer by die klubhuis en ek is toe dadelik bed toe. Sondagoggend het ons by die klub lekker ontbyt geëet en ons is terug huis toe. Dit was een van die lekkerste resiese waaraan ek nog deelgeneem het en kan nie wag vir volgende jaar se resies nie. Miskien doen ek dit in Top Notch.

Dis weer seilseisoen

Dit is heerlike lente en dit beteken die seilseisoen het amptelik begin. Ek het laas naweek vir die eerste keer aan die Big Boat Regatta op die Vaaldam deelgeneem. Ons het op Sea Quill – ‘n Stadt 34 deelgeneem. Sea Quill is in ‘n uitmuntende toestand en dit was ‘n plesier om op haar te seil.Die bemanning was vyf mans en ‘n dame sterk.

Ons is besig om in te haal

Ons is besig om in te haal

Alhoewel dit ‘n bietjie koud was, het die son darem die heeltyd geskyn en meer belangrik nog, die wind het die heeltyd gewaai. Toe die resies Sondag begin was dit maar 14 grade Celsius. Die wind was amper perfek vir albei dae van die regatta.

Volle konsentrasie

Volle konsentrasie

Die regatta was op Saterdag en Sondag gehou. Saterdag se resies het ons ‘n groot taktiese fout gemaak en amper laaste in die klas gekom, maar Sondag het dit baie beter gegaan selfs al het die meerderheid bemanning erg kopseer gehad. Sondag het almal aan boort geweet wat om te doen, en wanneer om dit te doen. Ons het amper foutloos om die roete geseil. Dit was eintlik jammer die roete was so kort gewees, want ons het begin om al die ander bote in te haal.

Celvin besig met verstillings op die jib

Calvin besig met verstillings op die jib

Sea Quill is nou nie eintlik ‘n resies masjien nie. Aan boort is daar ‘n TV, mikrogolfoond, ‘n Wynversameling wat uit ten minste 10 bottels rooiwyn en nog meer witwyn bestaan. Daar was 300 liter diesel aan boort en 100 liter water. Sea-Quill het natuurlik aan al die ander behoeftes kon voorsien soos koue bier en lekker toebroodjies gedurende die regatta.

Captain Morgan (Peter) is aan boord

Captain Morgan (Peter) is aan boord

 

Ons het uiteindelik tweede in ons klas geëindig en self ‘n prys gewen. Dit was een van die lekkerste regattas waarin ek nog deelgeneem het!