Daar is verskeie staproetes in die asemrowend mooi Kogelberg-natuurreservaat. Die langste roete in die reservaat en die een wat reg rondom Platberg gaan, is die Kogelberg staproete. Dit is ‘n 24 kilometer sirkelroete wat nie baie moeilik is nie, maar omdat dit so lank is moet jy redelik stapfiks wees voordat jy die roete aanpak.

Kogelberg-natuurreservaat is sowat ‘n honderd kilometer van my huis af. Die ingang is baie naby aan die brug oor die Palmietrivier net voor Kleinmond. Vanaf Kaapstad se kant af ry ‘n mens een van die mooiste roetes in die land, die R44 of te wel Clarence drive. Die pad volg die kuslyn tot by die afdraai na die Kogelberg-natuurreservaat. Ek het vir Hugo sesuur by sy huis opgelaai en ons was net so voor half-agt voor die hek, so paar minute voor die hek oopmaak. Terwyl ons voor die hek vir die beamptes wag, het Hugo van sy koffie met my gedeel en dit het gehelp teen ‘n baie koue windjie wat nou buite gewaai het.

Jy het ‘n permit nodig om te stap en jy kan een vooraf deur Cape Nature bespreek, of selfs by ontvangs een kry. Onthou dat ontvangs nie ‘n selfoon sein het nie wat ook beteken dat hulle nie kaart betalings aanvaar nie. Ons het hierdie les gisteroggend geleer en gelukkig is Kleinmond se Sasol gerage net ‘n katspoegie weg, waar ons kontant kon trek. Nadat al die adminstrasie uiteindelik afgehandel was, het ons net na sonsopkoms in die pad geval.

Die roete begin met ‘n redelike styl klim deur die Oudebos, ‘n inheemse woud. Hier loop ons in geelhout, stinkhout en nog ‘n verskeidenheid bome se koelte deur. Dele van die woud is so dig toegegroei dat dit amper donker is. Ons klim al langs die Oudebosrivier op en kruis dit so nou en dan. Behalwe vir die gekabbel van die water en ‘n voëltjie wat nou en dan fluit is dit doodstil in die bos.

Na min of meer 400 meter se klim bereik ons die bokant en begin ons in ‘n westelike rigting stap. Ons stap nou in ‘n vallei tussen fynbos deur reg langs die Platberg af. Dit is nou ook effens warmer, maar bewolk. Ons kon nie vir beter weer gevra het nie. Na sowat ‘n huur en ‘n half is dit tyd vir ‘n breek en ons eet ‘n paar snacks en drink weer van Hugo se koffie.

Ek het onlangs vir my ‘n hommeltuig gekoop, ‘n DJI mini 3. Ek het ‘n ligte en kompakte “vlieënde-kamera” gesoek wat ek kan saamdra as ek gaan stap om die natuurskoon met ‘n ander hoek te kan afneem. Na ons koffiebreek het ons besluit om die tuig die lug in te stuur. Ek het maar min ondervinding met die kamerawerk en dit is duidelik dat daar nog baie was om te leer. Ek het ook gesukkel om hom te land en Hugo moes hom van agteraf bekruip om hom uit die lug uit te pluk. Veilig terug op moederaarde en terug in my rugsak het ons besluit om weer later te probeer.

Ons het verder in die vallei afgestap en jy word omring deur berge en lower groen fynbos. Plek-plek is jy hoog genoeg om oor die rand van die vallei die oseaan aan die ander kant te sien. Teen hierdie tyd het daar skielik ‘n baie sterk noordwestewind opgesteek en daar het so paar druppels reën geval. Ons het nie ver gehad om te stap nie, voordat ons saam met die wind in ‘n oostelike rigting in draai nie.

Uiteindelik het ons die wind van agter, en ons het ‘n tweespoor pad bereik. Van hier af is dit al die pad afdraande tot by die Palmietrivier. Die uitsig het nou verander, daar is nou ander berge voor ons en links van ons met die Platberg steeds aan ons regterkant. Ons het al langs die Louwsrivier afgestap. Ons kon nie ophou wonder wie en wanneer hierdie tweespoor pad gebou is nie, dit was duidelik dat dit met baie moeite gebou was en dit moes baie lank terug gewees het. Die natuurreservaat se brosjure verwys na ‘n pad wat hier rond gebou was in die laat 1930’s. Ons is nie seker of hulle na hierdie tweespoor verwys nie.

Uiteindelik bereik ons die Palmietrivier en die laaste deel van die roete. Hier draai ons in ‘n suidelike rigting in en ons het nog sowat vyf kilometer oor tot by die eindpunt. Ons het op die tweespoor pad gebly met die sterk wind steeds van agter af. Hierdie deel van die pad het ek begin moeg raak en op elke bultjie gehoop ek sien die eindpunt. Na so paar teleurstellings is die einde in sig. Terug by die ontvangs drink ons gou iets en vat weer die pad langs die see aan terug huis toe.

In die amper sewe ure wat ons gestap het, het ons verby slegs vyf ander mense gestap. Die isolasie van die roete deur die berglandskappe en die fynbos maak hierdie een van my gunsteling dag stap roetes in die Kaap. Terug by die huis het ek heeldag aan die natuurskoon van die roete gelê en terug dink en besef hoe gelukkig ek is om hier in die Kaap te woon. Hierdie was die derde keer wat ek die roete gestap het en ek sal dit weer en weer stap.