Die somer het uiteindelik in die Kaap aangebreek en so af en toe kry ons ‘n windlose dag – perfekte weer om in die berge te gaan stap. Ek kon Vrydagaand vir Karla oorreed om saam te stap tot bo-op Constantiaberg en ons twee stop vroeg Saterdagoggend by die Silwermyn.

Constantiaberg, met sy kenmerkende radiomas op die piek, is een van daardie prominente pieke wat van byna enige plek op die skiereiland herken kan word. Die piek staan 927 meter hoog, en die totale klim was ongeveer 500 meter van waar ons by Silwermyn se dam parkeer het.

Op ons pad boontoe het ons by die Olifantsoog verbygestap. Dit is ‘n indrukwekkende grotopening in die berg, wat, met ‘n tikkie verbeelding, soos ‘n olifant se oog lyk wat teen die kop pryk. Dit bied ‘n ideale plek om aan padkos te smul en asem te skep terwyl ‘n mens die panoramiese uitsig oor die lang strand van Muizenberg, wat tot in Gordonsbaai strek, te bewonder.

Die hardewerk om die piek te bereik het nou eers regtig begin. Karla moes gereeld vir haar pa wag. Gelukkig was ons nie haastig nie en het baie tyd gehad om af en toe ‘n blaaskans te neem en die uitsig in te neem. Hoe hoër ons geklim het, hoe meer het die uitsig ons betower. Met die steilste deel van die klim agter ons, kon ons uieindelik die piek in die verte sien. By die piek moes ons oor ‘n paar rotse klouter om die Constantiaberg se driehoeksbaken te beriek.

Nadat ons die uitsig ingeneem het en weer asem geskep het en al ons water opgedrink het, is ons weer af. Ons het aan die suide kant afgeklim in die rigting van Chapmanspiek. Alhoewel die steil afdraende aan my bene gevat het, was dit steeds makliker as die opklim.

Teen die tyd dat ons weer onder was, het die temperatuur aansienlik gestyg, en ons het die laaste twee kilometer sonder enige water en sondbrandroom aangedurf. Dit was alles vanaf een van die mooiste uitkykpunte in die Kaap – natuurlik die uitkykpunt oor Houtbaai.

Na sowat 7 en ‘n half kilometers en amper 4 ure is ons terug by die kar. Dors en deur die son gebrand. Ons het dit egter baie geniet.