Die Grand Slams is soos gewoonlik oor die langnaweek van 9 Augustus en hierdie jaar was geen uitsondering nie. Ek het vir twee weke lank die weervoorspelling deeglik dopgehou, want ek was bekommerd dit gaan baie koud wees. Volgens die weervoorspelling sou dit nogal warm wees met baie min wind. Ons was baie verras toe ons Saterdagoggend opdaag en dit was ‘n heerlike warm dag. Die weervoorspelling was reg en ek kon dit amper nie glo nie, want die week voor die regatta was dit serker een van die koudste weke nog hierdie jaar gewees. Hulle was ook reg met die windvoorspelling – amper geen wind nie.
John kon ongelukkig nie hierdie jaar saam met ons seil nie en ek het vir Peter Richardson gevra om deel te wees van die span. Peter het baie lanklaas saam geseil en dit was weer lekker om hom aanboord te hê. Peter het ook intusse baie kennis en ervaring opgetel by van die ander bote waarmee hy geseil het en het baie van die kennis aan ons oorgedra. Kevin en Lisa het was soos gewoonlik die res van die bemanning. Nadat ons Saterdagoggend die boot in die water gekry het en al die administratiewe take voltooi het, het ons dadelik die seile gespan en begin seil. Ons moes so ‘n bietjie oefen voordat die regatta begin aangesien ons posisies moes verander omdat John nie daar was nie. Ons kon nie veel oefen nie, want daar was nie wind nie.
Ons was betyds vir die rugby – Springbokke teen Australië – en het die wedstryd by die Brentwood lodge gekyk. Ons het na die Springbokke se oorwinnng lekker gekuier en gebraai. Ons het eintlik so lekker gekuier dat ons vergeet het van die braaivleis en moes weer ry om kole te gaan koop sodat ons die vleis kon gaar maak. Sondagoggend moes ons agtuur op die water wees en almal het gesukkel om uit die bed te kom. Peter was soos gewoonlik laat en ons moes nog twee ure lank vir hom wag. Gelukkig was daar nog geen wind nie en ons het nie ‘n resies gemis nie.
‘n Briesie het later in die dag opgesteek en ons het weer ‘n resies kon seil. Die keer het ons redelik goed begin. Die wind het toe met 180 grade gedraai en ons was ongelukkig op die verkeerde plek en eindig toe heel laaste. So vieruur die middag het daar weer ‘n resies begin en hierdie keer was ons tweede in ons klas na die onderste merk. Halfpad deur die resies het die wind heeltemal gaan lê en die resies is gekanselleer. Dit was die einde van die dag en ons is terug. Ek was eitlik baie bly gewees, want ek was baie moeg en wou sommer reguit bed toe gaan. Ons het eers by die Vlieëndepiering gaan eet en toe reguit bed toe.
Maandag oggend was almal betyds vir die dag se resies, behalwe die wind. So elfuur het dit gelyk of die wind gaan opsteek en die eerste resies is aangekondig. Hierdie keer het ons weer ‘n baie goeie wegspring gehad en ons was die eerste boot van die hele vloot by die onderste merk. Weer het die wind net skielik gaan lê en die resies is gekanselleer. Dit was toe ook die einde van die dag se seil en vir die eerste keer vandat ek seil was ‘n belangrikke regatta soos die Grand Slams gekanselleer.
Ons almal het darem baie geleer en almal het dit baie geniet en sien uit na die volgende groot regatta wat in September gaan wees. Ek hoop net daar is wind.