Saterdag was dit weer groot rugby in Kaapstad toe die Springbokke die All Blacks aandurf in die tweede toets van die reeks. Met die kaartjies wat ‘n fortuin kos het ek besluit om eerder my kamera te gryp en Seinheuwel gekies vir my VIP-sitplek waar ek ten minste die Airlink-verbyvlugte af te kan neem.

In Suid-Afrika het ons hierdie tradisie dat voor ‘n groot rugby toets, die lugredery wat die Springbokke borg ‘n verbyvlug doen. Dit is altyd ‘n hoendervleis-oomblik. En vir fotograwe is dit pure goud veral hier in Kaapstad. Vanaf Seinheuwel kyk ‘n mens af oor die stadion en ‘n mense kan die vliegtuie van bo af afneem.

Met tegnologie soos Flightradar24, kon ons die vliegtuie mooi dophou sodat ons presies weet wanneer hulle oor die stadion gaan vlieg. Daar is net een kans om die foto’s te maak werk hulle vlieg nie weer oor nie. Van waar ons gestaan het, kon ons hoor hoe die volksliedere in die stadion opklink, en dit was ons sein dat die verbyvlug nou enige oomblik sou begin. Ek was so reg as wat ek kon en het maar gehoop die kamera se verstellings is alles in die regte plek.

Met die verbyvlug het ek begin afneem. Ek het soveel foto’s geneem wat ek kon – mik en druk. Met my geheuekaart vol foto’s van die twee passasiersvliegtuie het ons die ander fotograwe op Seinheuwel gegroet en terug huis toe gehaas om die foto’s op my rekenaar oop te maak. Die foto’s het mooi uitgekom. Natuurlik sien ’n mens altyd iets raak wat jy volgende keer anders sou doen.

Intussen bars daar ‘n petalje los op sosiale media oor die verbyvlug. Die nuuswêreld gons en vra of dit nie baie onveilig is vir passasiersvliegtuie om so laag oor ‘n stadion vol mense te vlieg nie. Op X.com is daar verskeie rekeninge met miljoene volgers wat video van die verbyvlug deel en mense spreek hul opinies uit. Ek was daar vir die foto’s en die hoendervleis. In Suid-Afrika is so ‘n verbyvlug ‘n tradisie, iets wat die res van die wêreld dalk nie weet nie (Hulle weet nie wat ons weet nie)

Ek het my foto’s op X.com geplaas, en binne minute het die reaksies begin instroom. Die foto’s is wyd en syd gedeel, en ek het nog nooit so baie interaksie op X/Twitter gehad nie. In net 12 uur het die foto’s meer as 160 000 kyke gekry, met meer as 1 500 hou‑van’s. Ek het sommer 20 nuwe volgers ook bygekry. Blykbaar het die petalje almal se nuuskierigheid aangevuur en my lens het op die regte oomblik geklik.


























